Verblyf
   
 Waar om te bly
Rondawel met 'n uitsig

Kampterrein by die rivier
Ossewaens teen die heuwel


 
Rondawel met 'n uitsig

Vanaf die hoofvenster het jy 'n pragtige uitsig oor die valleie en die heuwels. Dit is hier waar jy net kan kom sit en ontspan om die rustigheid van die natuur te geniet.

Ons goed toegeruste rondawel is ontwerp as 'n sit-slaap gerief, met 'n dubbelbed. Die rondawel kan egter ook tot twee kinders huisves indien nodig. Beddegoed en handdoeke word voorsien

Die kombuis- en kuierarea is volledig toegerus om geregte self voor te berei en te bedien. Die rondawel beskik ook oor 'n gerieflike braaiplek. Vuurmaakhout word gratis voorsien.

Die rondawel is ideaal geleë om te gebruik as 'n tuisbasis vanwaar die talle besienswaardighede in die omgewing verken kan word. Andersins is dit ook heerlik om op die dek te sit en ontspan om die pragtige uitsig te waardeer.

 

   
 

Kampterrein by die rivier

Ons kampterrein is op 'n besondere mooi plek geleë - op die werf waar die ou opstal gestaan het - 100m van die riviertjie af. Dis heerlik om van hier af in die kloof op te stap om die omgewing te verken.

Slegs tente kan egter hier gebruik word, aangesien die pad deur 'n driffie loop wat nie toeganklik is vir karavane nie.

Dis ook 'n ideale plek vir 'n groep om te kom kampeer. Eie tente moet gebruik word. Die ou stoor is ideaal as bymekaarkomplek vir sulke groepe. Die hele kampterrein kan deur 'n groep bespreek word teen 'n spesiale tarief.

Die skoon ablusiegeriewe het 4 toilette, wasbakke en storte. Daar is elektriese ligte in die badkamers, maar nie kragpunte by die staanplekke nie. Daar is ‘n “donkie” wat lekker warm water voorsien. ‘n Klein kombuisie het ‘n kragpunt en is toegerus met 'n yskassie, asook opwasgeriewe. Die braaiplek is groot en gerieflik en hout word gratis voorsien.

   
 

Ossewaens teen die heuwel

Kom geniet 'n regte pionierservaring soos in die ou dae in twee gerestoureerde ossewaens. Vanaf die ossewaens teen die heuwel het mens 'n pragtige uitsig oor die klowe.

Daar is 4 enkel slaapplekke in elk van die ossewaens. Langsaan is daar 'n houthuisie waar nog 2 persone kan slaap. Daar is dus 12 slaapplekke in totaal. Elke huisie het 'n toilet en wasbak, asook 'n opwasbak. Die kombuisie is toegerus met die basiese skottelgoed, kookgerei en 'n klein gasstofie. Bring egter jou eie beddegoed en handdoeke.

Daar is ook 'n heerlike buitestort met 'n "donkie" wat warm water voorsien.

Op die terrein is 'n ook lapa waar daar lekker vuurgemaak en gekuier kan word. Vuurmaakhout word gratis voorsien.

 
 

Wat etes betref

Ontbyt, middagete en/of aandetes is beskikbaar teen ekstra koste indien dit vooraf so gereël word.

   
© 2007-2009 Bergrivier Ondernemings